Droëvlakte

Droëvlakte se padstal is nou nie ‘n plek wat man moet misry as jy daar verby nie. Dit sit op die pad wat van die N2 af Stilbaai toe loop, op die droë vlakte – nes die naam sê – annerkant verby die Menskoppe, duskant Skerpkoppie. Dis nou as jy tussen al die spoke by Sandhoogte verby kan kom.

Op hierdie vlakte kruip daar baie outydse stories weg. Ek, Dantjie, skryf daarvan in “Plaasstories vir ‘ie siel”, in “Dantjie word wys” … en daar lê nog ‘n ouers stories in die laai en wag om klaargeskryf te kom.Dis nou van die keer wat oom Kerneels Bouwer die brandewynbottels al langs die uitgestrapte paadjie deur die veld van die Vrekklooof begrawe het  – vir ‘n lafenissie – vir as hy later te perd weer daar moes verby.

Op ‘n keer het ons Droëvlakte blou geverf, want dit was nie ‘n tyd om die plek rooi te verf nie.

Pa Job het Dantjie se eerste kitaar, ‘n Jazz-ene, ôk op Droëvlakte gaan koop. Dit was weer by ‘n anner Kerneels – van oom Philip Mollie.Pa het drie R10-note uit sy gatsak gehaal om vir die kitaar te betaal. Daarna was hy platsak.

So, al is dit droog, groei stories geil op hierdie vlakte, want hierdie wêreld is Storiewêreld. Dis stories soos stukkies biltong wat jy in broeksak kan druk vir jou pad vorentoe – om later aan te herkou. O! En moenie vergeet om van die slaghuis se plaaswors ook ‘n stukkie in jou kar te laai nie.

Leave a Reply