Droëvlakte

Droëvlakte se padstal is nou nie ‘n plek wat man moet misry as jy daar verby nie. Dit sit op die pad wat van die N2 af Stilbaai toe loop, op die droë vlakte – nes die naam sê – annerkant verby die Menskoppe, duskant Skerpkoppie. Dis nou as jy tussen al die spoke by Sandhoogte verby kan kom.

Op hierdie vlakte kruip daar baie outydse stories weg. Ek, Dantjie, skryf daarvan in “Plaasstories vir ‘ie siel”, in “Dantjie word wys” … en daar lê nog ‘n ouers stories in die laai en wag om klaargeskryf te kom.Dis nou van die keer wat oom Kerneels Bouwer die brandewynbottels al langs die uitgestrapte paadjie deur die veld van die Vrekklooof begrawe het  – vir ‘n lafenissie – vir as hy later te perd weer daar moes verby.

Op ‘n keer het ons Droëvlakte blou geverf, want dit was nie ‘n tyd om die plek rooi te verf nie.

Pa Job het Dantjie se eerste kitaar, ‘n Jazz-ene, ôk op Droëvlakte gaan koop. Dit was weer by ‘n anner Kerneels – van oom Philip Mollie.Pa het drie R10-note uit sy gatsak gehaal om vir die kitaar te betaal. Daarna was hy platsak.

So, al is dit droog, groei stories geil op hierdie vlakte, want hierdie wêreld is Storiewêreld. Dis stories soos stukkies biltong wat jy in broeksak kan druk vir jou pad vorentoe – om later aan te herkou. O! En moenie vergeet om van die slaghuis se plaaswors ook ‘n stukkie in jou kar te laai nie.

Krismisklokke

Die klokke klingel al weer dawerend in die winkels. Dantjie skryf hieroor in “Dantjie word wys”:
Daar hang liggies in die hoofstraat
van ‘n dorpie in die Weskaap
die Kersliggies rinkink sonder raad
almal staan dit oopmond en aangaap
allermense wat oor die fees wonder
ry van ver om die liggies te kom kyk
‘n keur glaskunswerk in ‘ie donker
die plastiek van ‘n sprokiesryk
Kersvader wat ritmies hink en pink
draadbokkies wat sy ysterslee trek
Kersboom flink-flikkerend groot, blink
sneeuvlok wat die swart lug pienk vlek
glas-Betlehemster wat knipoog wink
sommer aan ‘n lamppaal vasgewerk
Kersfeesklokke lui sonder om te klink
uitbundig so los van ‘n kerk
Prentstil fabeltaal sonder Kersverhaal
daai woorde moet mos ons sinne omhaal

Geleerdheid

Dis eksamentyd! Dantjie dink terug aan hoe sy Gesondheid leer probeer baasraak op die voorstoep in die sonnetjie. Pa kom kyk of Dantjie goed geleer en of sy haar werk ken. Maar so kom draai hy Dantjie se geleerdheid om met ‘n agterstevoor geleerdheid wat selde mooi broodjies bak. “Maar as die kors uit die staanspoor uit af is, kan jy enige saak sommer maklik deurkyk en opsom.” Want
Net omdat hy kantlangs leef
meen nie die krap gaan nêrens kom nie
net omdat man die teenkant stel
bedoel nie hy’s heeltyd stroom-op ‘ie.

Bedink dit tog om “Dantjie word wys” vir jou gesin se geleerdheid aan te skaf by info@plaasstories.co.za.

Atletiek

Wel, al is ek ôk by die atletiek stadiger as die ander kinders, het ek glad nie nodig om my bene daaroor te breek nie. So vir wat sal ek verder my kop daaroor breek? Ek is nou een maal Dantjie Donkievoete, met ‘n hele paar flinkdinkhoede van die verbeelding op. Flink van voet is feilbaar beproef. Flink van verbeeling word dan jou troef. Flink van voet kan ‘n man soms breek. Flink van verbeel laat jou min in die steek.