Tuisblad

Die stories op hierdie tuisblad is uitgeboer deur skrywer Dalene de Bruyn Joubert en word vertel deur Dantjie, wat kliphard saam boer op hulle woordgrondjie. Wie de drommel  is Dantjie?

‘n Reeks boeke met Dantjie se manewales is op pad. Die eerste een, “Plaasstories vir ‘ie siel” is reeds op die rakke.

Dalene de Bruyn Joubert se eerste bundel kontreiverhale

Plaasstories vir ‘ie siel

Dis vir lees en luister. Vir groot en klein, jonk en oud. “‘n Gunsie van ‘n kontreikunsie,” sê Dantjie. “My stories is plaaslik, ma’ nie gevaarlik, met Dantjie-deeglikheid opgeteken – stories van die plaaswerf af wat jy soos skyfies biltong in jou kop se gatsak kan druk om later op jou pad weer aan te herkou.”

Dantjie se vertelwerk word ook op ‘n unieke manier in haar boeke gevoetmerk, vir lees, reis en inklouter. “Dis meer biegstories as liegstories. Ek gaan bv droogvoets deur die 1981 vloed, maar nat in my gemoed – wat nog te sê my broek. Ek leef tussen kaaimanne en rooikatte, en trap dan en wan op Dantjie-dorings, wat net reg lê kry om in my voete en niemand anners sinne nie, te kom steek. Ek glo in ‘n regte Dantjie-dosis van lekkers verniet kry vir gesondword, (in die 2de storiebundel word hulle lekkers gekoop vir gewoond word). Daar word pannekoek gebak vir volword en turksevye getoets vir verstop word. Ek verf op ‘n kol Droëvlakte blou, want ek kan ernstig ôk raak en party plekke is partykeer nou eenmaal nooit weer vir rooi verf nie. …”